Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Geagte Teofilus, baie mense het al geskryf oor alles wat gebeur het toe Jesus op die aarde gelewe het.

2. Hulle het alles uitgevind by die mense wat van die begin af by Jesus was en wat self alles gesien het. Hulle het ook die mense uitgevra wat die goeie boodskap oor Jesus gebring het.

3. Ek het ook alles uitgevind wat die mense weet oor Jesus se lewe op die aarde en ek het lank daaroor gedink. Nou het ek besluit om alles vir jou te skryf soos dit gebeur het, alles wat ek weet.

4. Daarom kan jy seker wees dat die dinge wat jy geleer het, waar en reg is.

5. Herodes was die koning van Judea. In daardie tyd was daar ’n priester, Sagaria. Hy was een van die priesters van Abia se groep. Hulle het by die tempel gewerk wanneer dit hulle beurt was. Sagaria was getroud met Elisabet. Sy was van die nageslag van Aäron.

6. Sagaria en Elisabet het gelewe soos God wou hê, en hulle was gehoorsaam aan al die wette van die Here.

7. Maar hulle het nie kinders gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Hulle altwee was ook al baie oud.

8. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen.

9. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here.

10. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 1