Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 7:9-20 Bybel vir Almal (ABA)

9. Nadat Jesus dit alles vir sy broers gesê het, het Hy in die provinsie Galilea gebly.

10. Jesus se broers het na die fees gegaan. Later het Jesus self ook na die fees gegaan, maar die mense het dit nie geweet nie.

11. Daar by die fees het die Jode na Jesus gesoek. Hulle het gevra: “Waar is daardie man?”

12. Die mense het baie oor Jesus gepraat. Party mense het gesê: “Jesus is ’n goeie man.”Ander mense het gesê: “Nee, hy lieg vir die mense.”

13. Die mense het nie hard gesê wat hulle van Jesus dink nie, hulle wou nie hê die Jode moet dit hoor nie, want hulle was bang vir die Jode.

14. Op die vierde dag van die fees het Jesus na die tempel gegaan en Hy het vir die mense begin leer.

15. Die Jode was verbaas. Hulle het gesê: “Niemand het vir hierdie man geleer nie. Hoe weet hy so baie dinge?”

16. Jesus het vir hulle gesê: “Dit wat Ek vir julle leer, kom nie van My nie. Dit kom van God wat My na die wêreld gestuur het.

17. Iemand wat doen wat God wil hê, sal weet of die dinge wat Ek vir julle leer, van God kom en of dit van Myself kom.

18. Iemand wat vir ander mense dinge leer wat van homself kom, doen dit sodat die mense kan dink hy is belangrik. Ek doen dit nie. Ek wil hê dat die mense moet weet God is belangrik, God wat My na die wêreld gestuur het. Daarom kan die mense My glo. Ek is nie vals nie.

19. Moses het vir julle wette gegee, maar nie een van julle doen wat die wette sê nie. Hoekom probeer julle My doodmaak?”

20. Die mense het vir Jesus gesê: “Jy is mal, niemand probeer jou doodmaak nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 7