Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:58-71 Bybel vir Almal (ABA)

58. Julle moet verstaan dat die brood wat uit die hemel gekom het, heeltemal anders is as die manna wat julle voorvaders in die woestyn geëet het. Hulle het nie aangehou lewe nie, hulle het gesterf, maar iemand wat hierdie brood uit die hemel eet, sal altyd lewe.”

59. Jesus het al hierdie dinge oor die brood wat uit die hemel kom, vir die mense geleer in die sinagoge in Kapernaum.

60. Baie van Jesus se dissipels het gehoor wat Hy sê oor die brood uit die hemel. Hulle sê toe: “Die dinge wat Jesus sê, is baie moeilik om te verstaan. Ons wil dit nie hoor nie.”

61. Niemand het dit vir Jesus gesê nie, maar Hy het geweet dat sy dissipels kla. Hy het vir hulle gevra: “Hou julle nie van die dinge wat Ek sê nie?

62. Wat sal julle sê wanneer julle sien dat Ek, die Seun van die mens, teruggaan na die hemel waar Ek voorheen was?

63. Dit is die Heilige Gees wat vir julle waarlik weer laat lewe. Julle kan dit nie self doen nie. Wanneer Ek met julle praat, dan kom die Gees na julle toe en Hy laat julle waarlik lewe.

64. Maar party van julle glo nie in My nie.”Jesus het van die begin af geweet wie nie in Hom sal glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie Hom sal verraai.

65. Jesus het ook vir hulle gesê: “Dit is hoekom Ek vir julle gesê het niemand kan self na My toe kom nie. Die Vader bring hom na My toe.”

66. Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan. Hulle wou nie langer saam met Jesus gaan nie.

67. Toe vra Jesus vir die twaalf dissipels: “En julle, wil julle ook weggaan?”

68. Simon Petrus het vir Jesus gesê: “Nee, Here, daar is niemand na wie toe ons kan gaan nie. Die dinge wat U sê, laat mense altyd lewe.

69. Ons glo en weet dat U die Heilige is wat van God kom.”

70. Jesus het vir hulle gesê: “Ek het twaalf van julle gekies om dissipels te wees, maar een van julle is ’n duiwel!”

71. Jesus het gepraat van Judas, die seun van Simon Iskariot. Judas was een van Jesus se dissipels, maar hy het later vir Jesus verraai.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6