Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:46-62 Bybel vir Almal (ABA)

46. Dit beteken nie dat iemand anders ook die Vader gesien het nie. Net Ek het die Vader gesien, Ek wat van God kom.

47. Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe.

48. Ek is die brood wat die ewige lewe gee.

49. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf.

50. Maar die brood wat uit die hemel kom, is anders. Elkeen wat van hierdie brood eet, sal nooit sterf nie.

51. Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.”

52. Die Jode het toe baie met mekaar gestry en gesê: “Hoe kan Jesus vir ons sy liggaam gee om te eet?”

53. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun van die mens. As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, dan sal julle nie altyd lewe nie.

54. Iemand wat my liggaam eet en my bloed drink, sal altyd lewe. Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe.

55. Dit sal gebeur, want my liggaam en my bloed is die ware kos.

56. Wanneer iemand my liggaam eet en my bloed drink, dan is Ek by hom en hy is by My.

57. Die Vader lewe. Hy het My gestuur en Hy laat My lewe. So laat Ek ook almal lewe wat my liggaam eet.

58. Julle moet verstaan dat die brood wat uit die hemel gekom het, heeltemal anders is as die manna wat julle voorvaders in die woestyn geëet het. Hulle het nie aangehou lewe nie, hulle het gesterf, maar iemand wat hierdie brood uit die hemel eet, sal altyd lewe.”

59. Jesus het al hierdie dinge oor die brood wat uit die hemel kom, vir die mense geleer in die sinagoge in Kapernaum.

60. Baie van Jesus se dissipels het gehoor wat Hy sê oor die brood uit die hemel. Hulle sê toe: “Die dinge wat Jesus sê, is baie moeilik om te verstaan. Ons wil dit nie hoor nie.”

61. Niemand het dit vir Jesus gesê nie, maar Hy het geweet dat sy dissipels kla. Hy het vir hulle gevra: “Hou julle nie van die dinge wat Ek sê nie?

62. Wat sal julle sê wanneer julle sien dat Ek, die Seun van die mens, teruggaan na die hemel waar Ek voorheen was?

Lees volledige hoofstuk Johannes 6