Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 20:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. Hy het gebuk en in die graf gekyk. Hy het gesien die grafdoeke lê daar, maar hy het nie ingegaan in die graf nie.

6. Ná die dissipel vir wie Jesus lief was, het Simon Petrus ook daar gekom. Petrus het ingegaan in die graf en hy het gesien die grafdoeke lê daar.

7. Hy het ook die doek gesien wat om Jesus se kop was. Die doek het nie by die ander grafdoeke gelê nie. Iemand het dit opgevou, en dit was op ’n ander plek.

8. Die ander dissipel wat eerste by die graf was, het toe ook ingegaan. Hy het gesien Jesus se liggaam is nie daar nie en hy het geglo.

9. Die Ou Testament sê Jesus sal weer lewe, maar die dissipels het dit nog nie verstaan nie.

10. Toe het die twee dissipels weer teruggegaan.

11. Maria het by die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vorentoe gebuk en sy het ingekyk in die graf.

12. Sy sien toe twee engele. Hulle het wit klere aangehad. Hulle het gesit op die plek waar Jesus se liggaam gelê het. Een engel het gesit waar sy kop was, en die ander engel waar sy voete was.

13. Die twee engele het vir haar gevra: “Mevrou, hoekom huil jy?”Sy het gesê: “Hulle het my Here se liggaam weggeneem, en ek weet nie waar hulle Hom gesit het nie.”

14. Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai. Sy sien toe vir Jesus, Hy het daar gestaan, maar sy het nie geweet dit is Jesus nie.

15. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, hoekom huil jy? Vir wie soek jy?”Maria het gedink dit is die man wat daar in die tuin werk. Daarom het sy vir Hom gesê: “Meneer, het jy my Here weggeneem? As jy Hom weggeneem het, sê dan vir my waar jy Hom gesit het. Dan kan ek Hom gaan haal.”

16. Jesus het vir haar gesê: “Maria!”Toe draai sy na Jesus en sê: “Rabboeni!”Rabboeni is ’n Hebreeuse woord, dit beteken “My Meneer.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 20