Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 14:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Julle moet My glo wanneer Ek sê Ek is by die Vader en die Vader is by My. As julle nie wil glo wat Ek sê nie, dan moet julle glo omdat julle gesien het wat Ek doen.

12. Ek sê vir julle, en dit is seker: Mense wat in My glo, sal dieselfde dinge doen wat Ek gedoen het. Ja, hulle sal meer doen, want Ek gaan nou na die Vader toe.

13. Wanneer julle vir My iets vra omdat julle aan My behoort, dan sal Ek dit doen. So sal Ek, die Seun, wys dat die Vader God is.

14. Ja, as julle vir My iets vra omdat julle aan My behoort, dan sal Ek dit vir julle doen.”

15. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “As julle lief is vir My, dan sal julle doen wat Ek vir julle sê.

16. Ek sal vir die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Helper gee. Die Helper is die Heilige Gees. Die Gees sal altyd by julle bly.

17. Hy is die Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is. Die mense wat aan die wêreld behoort, kan die Gees nie ontvang nie, want hulle sien Hom nie en hulle ken Hom nie. Maar julle ken die Heilige Gees, want Hy bly by julle en Hy is in julle.

18. Ek los julle nie alleen soos kinders wat nie ’n pa en ma het nie. Ek kom weer terug na julle toe.

19. Ná ’n kort tydjie sal die mense wat aan die wêreld behoort, My nie meer sien nie, maar julle sal My sien. En omdat Ek altyd lewe, sal julle ook lewe.

20. Dan sal julle weet Ek is by die Vader en julle is by My en Ek is by julle.

21. As julle weet wat Ek wil hê julle moet doen, en julle doen dit, dan wys julle dat julle lief is vir My. As julle lief is vir My, dan sal my Vader ook lief wees vir julle. Dan sal Ek ook lief wees vir julle en Ek sal vir julle wys wie Ek is.”

22. Toe sê Judas vir Hom: “Here, ons verstaan dit nie: Hoe sal U net vir óns wys wie U is, maar nie vir die mense van die wêreld nie?”Dit was nie Judas Iskariot nie, dit was ’n ander dissipel, sy naam was ook Judas.

Lees volledige hoofstuk Johannes 14