Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 12:20-33 Bybel vir Almal (ABA)

20. Daar was ook Grieke wat gekom het om God op die Paasfees te aanbid.

21. Die Grieke het na Filippus toe gekom en hulle het vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus sien.”Filippus het van die stad Betsaida in die provinsie Galilea gekom.

22. Filippus het na Andreas toe gegaan en hy het vir Andreas gesê die Grieke wil vir Jesus sien. Andreas en Filippus het gegaan en hulle het vir Jesus gesê die Grieke wil Hom sien.

23. Jesus het vir hulle gesê: “Die tyd het gekom. Nou sal God wys dat Ek, die Seun van die mens, ook God is.

24. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer ’n mens ’n koringkorrel in die grond saai, dan gaan dit dood, en daarna groei die koring en dit dra baie koringkorrels. Maar as die koringkorrel nie in die grond val en doodgaan nie, dan word dit nie baie nie.

25. As iemand dink sy eie lewe is baie belangrik, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand besef dat sy lewe op aarde nie belangrik is nie, dan sal hy sy lewe hou, hy sal altyd aanhou lewe.

26. Almal wat My dien, moet doen wat Ek doen, en hulle moet aanhou om die dinge te doen wat Ek doen. My Vader sal sê almal wat My dien, is belangrik.”

27. Jesus het gesê: “Ek is nou baie bekommerd en ontsteld. Wat moet Ek vir my Vader vra? Moet Ek vir Hom vra dat my tyd van swaarkry nie sal kom nie? Nee, Ek het na die wêreld gekom om swaar te kry.”

28. Jesus het gebid en gesê: “Vader, wys dat U God is!”Toe het God uit die hemel gesê: “Ek het gewys dat Ek God is en Ek sal dit weer doen.”

29. Die mense wat daar was, het dit gehoor. Party het gesê: “Ons hoor donderweer,” en ander mense het gesê: “’n Engel het met Jesus gepraat.”

30. Jesus het vir hulle gesê: “God het uit die hemel gepraat, nie sodat Ék sy stem kan hoor nie, maar sodat júlle sy stem kan hoor.

31. Nou sal God die mense van die wêreld oordeel. Nou sal Hy die Satan, die leier van die mense van hierdie wêreld, oorwin.

32. Wanneer Ek hoog bo die grond is, dan sal Ek almal nader trek na My toe.”

33. Toe Jesus gesê het Hy sal hoog bo die grond wees, het dit beteken Hy sal aan ’n kruis hang.

Lees volledige hoofstuk Johannes 12