Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:6-20 Bybel vir Almal (ABA)

6. Jesus wou vir die Fariseërs iets verduidelik toe Hy oor die herder gepraat het. Maar hulle het nie verstaan wat Hy vir hulle wou sê nie.

7. Jesus het ook gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die hek vir die skape.

8. Die mense wat gekom het voordat Ek gekom het, het net ingebreek en gesteel. Maar die skape het nie na hulle geluister nie.

9. Ek is die hek vir die skape. God sal die mense red wat in My glo. Hulle sal soos skape wees wat ingaan en uitgaan by ’n hek en wat gras kry om te eet.

10. ’n Dief kom net om die skape te steel en te slag en dood te maak. Ek is nie so nie. Ek het gekom sodat die skape kan lewe, sodat hulle regtig kan lewe.

11. Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder sal sterf sodat sy skape kan lewe.

12. Iemand wat geld kry om die skape op te pas, sal nie doen wat die Goeie Herder doen nie. Iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig ’n herder nie, en dit is nie sy skape nie. Wanneer hy sien ’n wolf kom, dan los hy die skape en hy hardloop weg. Dan vat die wolf die skape weg en hy jaag hulle na al die kante toe.

13. Ja, iemand wat geld kry om die skape op te pas, is nie regtig bekommerd oor die skape nie.

14. “Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en my skape ken My,

15. soos die Vader My ken en soos Ek die Vader ken. Ek sal sterf sodat my skape kan lewe.

16. Ek het ook ander skape wat nie in hierdie kraal is nie. Ek moet ook voor hulle loop. Hulle sal ook na my stem luister. Al my skape sal eendag in een trop wees en Ek sal die hele trop se herder wees.

17. Die Vader is lief vir My, want Ek sal sterf sodat my skape kan lewe. Ek sal sterf sodat Ek weer kan lewe.

18. Dit is nie iemand anders wat besluit dat Ek moet sterf nie. Nee, Ek het self besluit dat Ek sal sterf. Ek kan self besluit dat Ek sal sterf en weer begin lewe. Dit is wat my Vader gesê het Ek moet doen.”

19. Toe die Jode hoor wat Jesus alles sê, het hulle baie met mekaar gestry.

20. Party Jode het gesê: “Dit is ’n duiwel wat hom so laat praat. Hy is mal, julle moenie luister na hom nie!”

Lees volledige hoofstuk Johannes 10