Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 7:8-18 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die Levi-priesters ontvang tiendes en hulle is mense wat sal sterf. Maar Melgisedek ontvang ook tiendes, en die Ou Testament sê dat hy aangehou het om te lewe.

9. ’n Mens kan miskien sê die nageslag van Levi wat tiendes ontvang, het ook vir Melgisedek tiendes gegee toe Abraham vir Melgisedek ontmoet het en vir hom ’n tiende gegee het.

10. Want Levi was toe nog in sy voorvader Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

11. Die volk het die Wette van Moses ontvang om vir hulle te vertel van die werk van die priesters van die nageslag van Levi. As dit waar is dat hierdie priesters van die nageslag van Levi hulle werk heeltemal klaar gedoen het, hoekom moes daar ’n ander priester kom? Hoekom moes hy ’n priester wees wat soos Melgisedek is en nie soos Aäron nie?

12. Want wanneer ander mense priesters word, dan moet die wet ook verander.

13. Want die Ou Testament het hierdie belofte oor hierdie ander priester gemaak, en hy was van ’n ander stam. Niemand van hierdie stam was ’n priester by die altaar nie.

14. Want almal weet dat ons Here van die Juda-stam kom. Moses het niks gesê oor priesters in die Juda-stam nie.

15. En wanneer daar ’n ander priester kom wat soos Melgisedek is, dan is dit nog meer duidelik

16. dat hy nie ’n priester geword het soos die wette en reëls oor mense se afstammelinge sê nie. Nee, Hy het ’n priester geword omdat Hy nie kon sterf nie.

17. Want in die Ou Testament is geskryf: Jy self sal altyd ’n priester wees,soos Melgisedek ’n priester was.

18. Daar is nie meer priesters nie, want die wette wat voorheen daar was oor priesters, was swak en dit het nie vir die mense gehelp nie.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 7