Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 5:7-14 Bybel vir Almal (ABA)

7. Terwyl Jesus op die aarde gelewe het, het Hy tot God gebid en Hy het gesoebat, ja, Hy het geskree en gehuil. Hy het dit gedoen soos wanneer iemand offers bring vir God. Hy het dit gedoen omdat God vir Hom kan red van die dood. God het geluister na Jesus omdat Jesus vir God geëer het.

8. Dit is waar dat Jesus die Seun van God is, maar Hy het geleer om gehoorsaam te wees toe Hy so swaar gekry het en gesterf het.

9. En toe Jesus gely het en gereed was om Hoëpriester te wees voor God, het Jesus vir altyd die Redder geword van almal wat luister na Hom.

10. Jesus kon dit doen omdat God gesê het dat Jesus ’n hoëpriester moet wees soos Melgisedek.

11. Ons kan baie dinge vir julle hieroor vertel. Maar dit is moeilik om dit vir julle te verduidelik, omdat julle nie gou verstaan nie.

12. Julle moes nou al klaar leermeesters gewees het, maar julle is nie. Iemand moet nou weer vir júlle leer. Iemand anders moet vir julle wéér die dinge leer wat ’n mens eerste leer wanneer jy God se boodskap hoor. Julle is nou soos mense wat weer melk moet drink en wat nog nie ander kos kan eet nie.

13. Want elkeen wat nog melk drink, is soos ’n klein babatjie. Hy het nog nie geleer wat is reg of wat is verkeerd nie.

14. Maar grootmense eet ander kos. Hulle is mense wat baie maal ge-oefen het om te besluit wat is reg en wat is verkeerd. Daarom weet hulle wat is reg en wat is verkeerd.

Lees volledige hoofstuk Hebreërs 5