hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Hebreërs 5 Bybel vir Almal (ABA)

1. Wanneer God mense kies en aanstel om hoëpriesters te wees, dan is dit altyd húlle wat God se werk moet doen. Hulle moet dan presente en offers bring omdat mense sondes doen.

2. So ’n hoëpriester kan geduldig wees met die mense wat verkeerde dinge doen omdat hulle nie geweet het dat dit verkeerd is nie. Die hoëpriester doen dit omdat hy self ook ’n swak mens is.

3. Daarom moet die hoëpriester ook vir sy eie sondes offers bring, soos hy vir die volk se sondes offers bring.

4. ’n Hoëpriester kry eer, maar niemand kan self kies om hoëpriester te wees nie. Nee, dit is God wat sê dat daardie persoon hoëpriester moet wees, soos God dit ook vir Aäron gesê het.

5. So het die Christus ook nie self gekies om eer te kry en om Hoëpriester te wees nie. Nee, God het vir Hom die eer gegee, God het vir Hom gesê: Jy is my Seun,Ek is van vandag af jou Vader.

6. So sê God ook: Jy self sal altyd ’n priester wees,soos Melgisedek ’n priester was.

7. Terwyl Jesus op die aarde gelewe het, het Hy tot God gebid en Hy het gesoebat, ja, Hy het geskree en gehuil. Hy het dit gedoen soos wanneer iemand offers bring vir God. Hy het dit gedoen omdat God vir Hom kan red van die dood. God het geluister na Jesus omdat Jesus vir God geëer het.

8. Dit is waar dat Jesus die Seun van God is, maar Hy het geleer om gehoorsaam te wees toe Hy so swaar gekry het en gesterf het.

9. En toe Jesus gely het en gereed was om Hoëpriester te wees voor God, het Jesus vir altyd die Redder geword van almal wat luister na Hom.

10. Jesus kon dit doen omdat God gesê het dat Jesus ’n hoëpriester moet wees soos Melgisedek.

Julle moenie ophou om in Christus te glo nie

11. Ons kan baie dinge vir julle hieroor vertel. Maar dit is moeilik om dit vir julle te verduidelik, omdat julle nie gou verstaan nie.

12. Julle moes nou al klaar leermeesters gewees het, maar julle is nie. Iemand moet nou weer vir júlle leer. Iemand anders moet vir julle wéér die dinge leer wat ’n mens eerste leer wanneer jy God se boodskap hoor. Julle is nou soos mense wat weer melk moet drink en wat nog nie ander kos kan eet nie.

13. Want elkeen wat nog melk drink, is soos ’n klein babatjie. Hy het nog nie geleer wat is reg of wat is verkeerd nie.

14. Maar grootmense eet ander kos. Hulle is mense wat baie maal ge-oefen het om te besluit wat is reg en wat is verkeerd. Daarom weet hulle wat is reg en wat is verkeerd.