Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:4-18 Bybel vir Almal (ABA)

4. Maar baie van die mense wat gehoor het wat Petrus en Johannes sê, het begin glo. Hulle het net die mans getel, en daar was omtrent 5 000 mans.

5. Die volgende dag het die Jode se leiers en familieleiers en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaargekom.

6. Annas die hoëpriester, Kajafas, Johannes, Aleksander, en al die ander mans wat familie was van die hoëpriester, was ook daar.

7. Hulle het vir Petrus en Johannes in die middel laat staan en het vir hulle gevra: “Wie se krag of wie se naam het julle gebruik toe julle die lam man gesond gemaak het?”

8. Die Heilige Gees het toe in Petrus gekom, en Petrus het gesê: “Leiers van die volk en familieleiers,

9. julle beskuldig ons vandag omdat ons iets goed gedoen het vir ’n siek man, omdat ons iets gedoen het wat hierdie man gesond gemaak het.

10. Julle almal, en die hele volk Israel, moet weet dat Jesus Christus van Nasaret hierdie man gesond gemaak het, daarom staan die man nou hier voor julle. Julle het vir Jesus gekruisig, maar God het Hom weer laat lewe.

11. Hierdie Jesus is“die klip, en julle is die bouers,julle het hierdie klip weggegooi,maar hierdie kliphet die belangrikste klipin die hele gebou geword.

12. “Net Jesus kan ons red, niemand anders nie. God het nie ’n ander naam op die aarde vir die mense gegee wat ons kan red nie, Hy wil hê die Naam van Jesus moet ons red.”

13. Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was.

14. Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie.

15. Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat.

16. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle ’n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie.

17. Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.”

18. Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4