Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 4:12-20 Bybel vir Almal (ABA)

12. “Net Jesus kan ons red, niemand anders nie. God het nie ’n ander naam op die aarde vir die mense gegee wat ons kan red nie, Hy wil hê die Naam van Jesus moet ons red.”

13. Die Joodse leiers was verbaas toe hulle sien dat Petrus en Johannes nie bang is om oor Jesus te praat nie. Want hulle het geweet dat Petrus en Johannes die Wette van Moses nie goed geken het nie en dat hulle nie geleer het om voor ander mense te praat nie. Hulle het ook geweet dat Petrus en Johannes dissipels van Jesus was.

14. Maar hulle het gesien die lam man wat gesond geword het, staan by Petrus en Johannes, en daarom kon hulle niks daarteen sê nie.

15. Hulle het vir Petrus en Johannes gesê om buite die Joodse Raad te gaan wag. Hulle het toe vergadering gehou en met mekaar gepraat.

16. Hulle het gesê: “Wat sal ons doen met hierdie mense? Want God het hulle ’n teken laat doen, dit is seker. Al die mense van Jerusalem dink so, ons kan nie stry nie.

17. Maar ons wil nie hê dat nog méér mense daarvan moet hoor nie. Daarom moet ons hulle waarsku om nie weer Jesus se Naam te noem nie, hulle moenie met iemand oor Hom praat nie.”

18. Hulle het toe vir Petrus en Johannes geroep om na hulle toe te kom en hulle het gesê dat Petrus en Johannes glad nie oor Jesus mag preek of vir die mense mag leer van Hom nie.

19. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gevra: “Moet ons luister na God of moet ons luister na julle? Waarvan sal God hou? Julle kan self besluit.

20. Want ons kan nie stilbly oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 4