Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 24:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Vyf dae het verbygegaan. Toe het die hoëpriester Ananias na goewerneur Feliks toe gekom. Daar het ook ’n paar ouderlinge en ’n advokaat saam met Ananias gekom. Die advokaat se naam was Tertullus. Hulle het vir die goewerneur kom sê wat Paulus verkeerd gedoen het.

2. Die goewerneur het vir Paulus laat roep. Toe het Tertullus met die goewerneur gepraat en hy het vir Paulus begin beskuldig. Tertullus het gesê: “Geagte goewerneur Feliks, jy het baie vrede vir ons mense gebring. En jy het gedink wat in die toekoms sal gebeur, en toe het jy baie goeie planne gemaak, planne wat ons volk help.

3. Dit is vir ons altyd lekker om die goeie dinge te sien wat jy oral vir ons volk doen. Ons is baie dankbaar daaroor.

4. Maar ek wil nie jou tyd mors nie, ek sal nie lank praat nie. Ek weet jy is altyd vriendelik met mense, daarom vra ek jou baie mooi om te luister na wat ons vra.

5. Ons het uitgevind dat hierdie man oral baie probleme maak. Hy maak Jode oral in die wêreld opstandig teen die regering en hy is ’n leier van die groep mense wat verkeerde dinge glo, hulle glo in Jesus van Nasaret.

6. “Hy het ook probeer om die tempel in Jerusalem ’n onrein plek te maak. Daarom het ons hom gevang.

8. Ons beskuldig hom oor al hierdie dinge. Jy moet hom self vra en dan kan jy hoor wat hy daarvan sê.”

9. Die ander Jode wat daar was, het gesê dat Tertullus die waarheid praat.

10. Die goewerneur het vir Paulus gewys dat hy mag praat. Paulus het vir hom gesê: “Ek weet jy is baie jare lank regter oor hierdie volk. Daarom wil ek graag vir jou sê dat ek onskuldig is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 24