Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:22-35 Bybel vir Almal (ABA)

22. Die hoof-offisier het vir die jongman gesê dat hy mag teruggaan huis toe. Hy het ook vir hom gesê: “Jy moenie vir iemand sê dat jy al hierdie dinge vir my vertel het nie!”

23. Toe roep die hoof-offisier twee offisiere en hy sê vir hulle: “Julle moet vir 200 soldate sê hulle moet gereedmaak sodat julle vanaand nege-uur na die stad Sesarea kan gaan. Daar moet ook 70 soldate saamgaan wat op perde ry en 200 soldate wat met spiese veg.

24. Julle moet ook perde saamneem sodat Paulus op hulle kan ry en julle moet hom veilig neem tot by goewerneur Feliks.”

25. En die hoof-offisier het ’n brief vir Feliks geskryf. Hy het geskryf:

26. Ek, Claudius Lisias, skryf hierdie brief vir jou, geagte goewerneur Feliks. Ek stuur groete!

27. Die Jode het hierdie man gevang en hulle wou hom doodmaak. Maar ek het gehoor dat hy ’n Romeinse burger is, en daarom het ek met soldate gegaan en ons het hom gaan red.

28. Ek wou uitvind hoekom die Jode hom beskuldig het. Daarom het ek hom na die Joodse Raad gestuur.

29. Ek het uitgevind hulle beskuldig hom dat hy nie doen wat die Joodse wette sê nie. Dit is dinge waaroor die Jode baie stry. Maar hy het niks gedoen waaroor ’n mens hom moet doodmaak of in die tronk moet gooi nie.

30. Iemand het vir my kom sê dat die Jode ’n geheime plan gemaak het teen hom. Daarom het ek hom dadelik na jou toe gestuur. En ek het vir die Jode wat hom beskuldig, gesê hulle moet na jou toe gaan en hulle moet sê wat hy verkeerd gedoen het.

31. Die soldate het toe gedoen wat die hoof-offisier vir hulle gesê het. Toe dit nag was, het hulle vir Paulus na die stad Antipatris geneem.

32. Die volgende dag het hulle die soldate wat op perde gery het, verder saam met Paulus laat gaan, en die ander soldate het teruggegaan na Jerusalem, na die soldate-kamp toe.

33. Toe die soldate wat op perde gery het, in Sesarea kom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en hulle het vir Paulus voor die goewerneur laat staan.

34. Die goewerneur het die brief gelees en hy het vir Paulus gevra van watter provinsie hy kom. Toe die goewerneur hoor dat Paulus van die provinsie Silisië kom,

35. het hy vir Paulus gesê: “Ek sal wag totdat die Jode kom wat jou beskuldig, dan sal ek luister na wat hulle sê en wat jy sê, en dan sal ek besluit of jy verkeerd gedoen het.”En hy het vir die soldate gesê hulle moet vir Paulus toesluit in die paleis wat Herodes gebou het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23