Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:18-24 Bybel vir Almal (ABA)

18. Die offisier het toe die jongman geneem en hy het hom na die hoof-offisier gebring. En die offisier het vir die hoof-offisier gesê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en hy het vir my gevra om hierdie jongman na jou toe te bring, want die jongman wil iets vir jou vertel.”

19. Die hoof-offisier het die jongman se hand geneem en hy het hom ’n entjie verder weggeneem sodat hulle alleen kon wees. Hy het toe vir die jongman gevra: “Wat is dit wat jy vir my wil vertel?”

20. Die jongman het geantwoord: “Die Jode het bymekaargekom en hulle het ’n geheime plan gemaak. Hulle sal vir jou vra om vir Paulus môre na die Joodse Raad te neem. Hulle sal lieg en sê hulle wil vir Paulus nog meer vrae vra om seker te maak of hy verkeerd gedoen het.

21. Maar jy moenie doen wat hulle vra nie. Meer as 40 manne lê en wag om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê God moet hulle getuie wees en Hy moet hulle straf as hulle iets eet of drink voordat hulle vir Paulus doodgemaak het. Daardie mans is nou gereed om dit te doen, hulle wag nou dat jy vir Paulus na die Joodse Raad laat gaan.”

22. Die hoof-offisier het vir die jongman gesê dat hy mag teruggaan huis toe. Hy het ook vir hom gesê: “Jy moenie vir iemand sê dat jy al hierdie dinge vir my vertel het nie!”

23. Toe roep die hoof-offisier twee offisiere en hy sê vir hulle: “Julle moet vir 200 soldate sê hulle moet gereedmaak sodat julle vanaand nege-uur na die stad Sesarea kan gaan. Daar moet ook 70 soldate saamgaan wat op perde ry en 200 soldate wat met spiese veg.

24. Julle moet ook perde saamneem sodat Paulus op hulle kan ry en julle moet hom veilig neem tot by goewerneur Feliks.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23