Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 23:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Paulus het reguit na die Joodse Raad gekyk en hy het vir hulle gesê: “Vriende, ek praat die waarheid, ek weet dat ek tot vandag toe heeltemal reg gelewe het, ek het gelewe soos God wil hê ’n mens moet lewe.”

2. Daar het manne naby Paulus gestaan, en Ananias, die hoëpriester, het vir hulle gesê hulle moet vir Paulus op sy mond slaan.

3. Toe het Paulus vir hom gesê: “God sal vir jóú slaan, jy is so skynheilig soos ’n muur wat vuil is, maar iemand het wit verf daaroor gesmeer. Jy sit hier om na die wette te luister en om my te oordeel, maar jy doen self nie wat die wette sê nie, jy sê hulle moet my slaan.”

4. Die manne wat naby Paulus gestaan het, het vir hom gesê: “Jy beledig nou God se hoëpriester!”

5. Paulus het geantwoord: “Vriende, ek het nie geweet dat hy die hoëpriester is nie. Ek weet in die Ou Testament is daar geskryf:“Jy mag nie slegte dinge sêvan ’n leier van jou volk nie.”

6. Paulus het gesien dat party van die lede van die Joodse Raad Sadduseërs is en dat party van hulle Fariseërs is. Daarom het hy hard voor die Joodse Raad gepraat en hy het gesê: “Vriende, ek is ’n Fariseër en my pa was ook ’n Fariseër. Ek glo en ek weet dat God mense wat gesterf het, weer sal laat lewe, dit is seker. Dit is hoekom ek vandag hier is en hoekom julle my moet oordeel.”

7. Toe Paulus dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs met mekaar begin stry, en al die mense wat daar was, het in twee groepe verdeel.

8. Hulle het gestry, want die Sadduseërs glo nie dat God die mense wat gesterf het, weer sal laat lewe nie. Hulle glo ook nie dat daar engele of geeste is nie. Maar die Fariseërs glo dit alles.

9. Almal het baie geraas en geskree. Party van die skrifgeleerdes wat ook Fariseërs was, het opgestaan en hulle het baie gestry en gesê: “Ons dink nie hierdie man, Paulus, het iets verkeerd gedoen nie! Miskien het ’n engel of ’n gees met hom gepraat.”

10. Toe het almal nog meer gestry en geraas. Die hoof-offisier het bang geword dat hulle vir Paulus stukkend sou skeur. Daarom het die hoof-offisier vir die soldate gesê hulle moet hardloop en hulle moet vir Paulus gaan gryp en hom terugneem na die soldate-kamp.

11. Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en Hy het vir Paulus gesê: “Jy moenie moedeloos word nie! Jy het nou vir die mense in Jerusalem van My vertel. So moet jy ook vir die mense in Rome van My gaan vertel.”

12. Daardie oggend het die Jode ’n geheime plan gemaak om vir Paulus dood te maak. Hulle het gesê: “God is ons getuie en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het!”

13. Dit was meer as 40 mense wat daardie geheime plan gemaak het.

14. Hulle het na die priesterleiers en die ouderlinge gegaan en vir hulle gesê: “Ons het gesê God moet ons getuie wees en Hy moet ons straf as ons iets eet of drink voordat ons vir Paulus doodgemaak het.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 23