Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 21:1-15 Bybel vir Almal (ABA)

1. Paulus en ons het totsiens gesê vir die ouderlinge van die stad Efese, en toe het ons weggeseil met die skip. Ons het reguit geseil tot by die eiland Kos. Die volgende dag het ons tot by die eiland Rodos geseil en toe tot by die stad Patara.

2. In Patara het ons ’n skip gekry wat na die land Fenisië sou seil. Ons het op die skip geklim en weggeseil.

3. Ons het verder geseil en ons kon die eiland Siprus sien. Ons het nog verder geseil en ons het regs verby Siprus geseil tot by Sirië. Ons het by die stad Tirus afgeklim, want die mense moes daar die goed aflaai wat op die skip was.

4. Ons het die gelowiges in Tirus gaan soek en ons het sewe dae lank by hulle gebly. Hulle het vir Paulus gesê die Heilige Gees het gesê hy moenie na Jerusalem gaan nie.

5. Toe die sewe dae verby was, het ons uit die stad gegaan om verder te gaan. Al die gelowiges, ook hulle vrouens en kinders, het saam met ons uit die stad gegaan. Ons het op die strand gekniel en gebid.

6. Toe het ons mekaar gegroet en ons het op die skip geklim. Die gelowiges het teruggegaan huis toe.

7. Ons het van Tirus verder met die skip geseil en ons het by die stad Ptolemaïs gekom. Ons het die gelowiges daar gegroet en ons het een dag lank by hulle gebly.

8. Die volgende dag het ons verder gegaan en ons het by die stad Sesarea gekom. Daar het ons na die huis van Filippus gegaan en ons het by hom gebly. Hy was een van sewe leiers wat die goeie boodskap van God in Sesarea gebring het.

9. Filippus het vier dogters gehad, hulle was nog nie getroud nie. Die vier dogters was profete.

10. Ons het ’n lang tyd daar gebly. Terwyl ons daar was, het ’n profeet van Judea daar aangekom. Sy naam was Agabus.

11. Agabus het na ons toe gekom en hy het Paulus se belt gevat. Agabus het sy eie hande en voete met die belt vasgebind en gesê: “Die Heilige Gees sê die Jode in Jerusalem sal die man wat altyd hierdie belt dra, só vasbind. En hulle sal hom dan vir die heidene gee.”

12. Toe ons hoor wat Agabus sê, het ons en die gelowiges wat daar woon, vir Paulus ernstig gevra om nie na Jerusalem te gaan nie.

13. Toe sê Paulus: “Wat doen julle nou? Julle huil en julle maak my hartseer! Ek is gereed om te gaan. Die mense kan my vang in Jerusalem, dit maak nie saak nie. Ja, ek is ook gereed om in Jerusalem te sterf vir die Naam van die Here Jesus.”

14. Paulus wou nie luister na wat ons vir hom sê nie, en daarom het ons stilgebly. Ons het net gesê: “Ons bid dat die Here sal doen wat Hy wil doen.”

15. Nadat hierdie tyd verby was, het ons gereedgemaak om na Jerusalem te gaan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 21