Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:27-36 Bybel vir Almal (ABA)

27. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het.

28. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.”

29. Toe het die wag gevra dat iemand ’n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval.

30. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?”

31. Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.”

32. En Paulus en Silas het vir die wag en al die mense in sy huisgesin vertel van die boodskap van die Here.

33. Die wag het toe vir hulle laat in die nag saamgeneem en hy het hulle seerplekke gewas. En Paulus het hom en al die mense in sy huisgesin dadelik gedoop.

34. Die wag het hulle toe na sy huis gebring en hy het vir hulle kos gegee om te eet. Hy en almal in sy huisgesin was baie bly omdat hulle nou in God begin glo het.

35. Die volgende oggend het die Romeinse regeerders die polisie na die wag toe gestuur om vir hom te sê: “Jy moet daardie manne vry laat weggaan uit die tronk.”

36. Die wag het toe vir Paulus vertel wat die polisie gesê het. Hy het gesê: “Die Romeinse regeerders het vir my ’n boodskap gestuur dat ek julle vry moet laat weggaan. Kom nou uit en gaan weg met vrede in julle harte.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16