Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:20-31 Bybel vir Almal (ABA)

20. Toe die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas voor die Romeinse regeerders gebring het, het die eienaars gesê: “Hierdie mense is Jode en hulle maak die mense in ons stad opstandig.

21. Hulle vertel vir ons om dinge te doen, maar ons dink nie dit is reg nie, en ons mag dit nie doen nie, want ons is Romeine.”

22. Baie mense het toe saam met die eienaars van die slavin vir Paulus en Silas aangeval. Die Romeinse regeerders het Paulus en Silas se klere van hulle laat afskeur en hulle het gesê dat die soldate hulle met stokke moet slaan.

23. Nadat die soldate hulle baie geslaan het, het hulle vir Paulus en Silas in die tronk gegooi en die soldate het vir die wag gesê dat hy hulle baie goed moet oppas.

24. Die wag het toe vir Paulus en Silas in die binneste deel van die tronk gegooi en hy het hulle voete in ’n blok gesit.

25. In die middel van die nag was Paulus en Silas besig om te bid en om liedere te sing om God te prys. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26. Skielik was daar ’n groot aardbewing en die fondamente van die tronk het gebewe. Dadelik het al die deure van die tronk oopgegaan en almal se kettings het afgeval.

27. Toe die wag wakker word en sien dat die deure van die tronk oop is, het hy sy swaard uitgetrek. Hy wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes almal weggevlug het.

28. Maar Paulus het baie hard vir hom geskree: “Moenie jouself doodmaak nie, ons is nog almal hier.”

29. Toe het die wag gevra dat iemand ’n lig moet bring en hy het in die binneste deel van die tronk ingehardloop. Hy het gebewe en hy het voor Paulus en Silas se voete op die grond geval.

30. Nadat hy hulle buitetoe geneem het, het hy gesê: “Menere, wat moet ek doen sodat God my kan red?”

31. Hulle sê toe vir hom: “Jy moet glo in die Here Jesus en dan sal God jou red, vir jou en jou huisgesin.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16