Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:6-17 Bybel vir Almal (ABA)

6. Hulle het deur die hele eiland gegaan tot by die stad Pafos. Daar het hulle ’n man ontmoet, sy naam was Barjesus. Hy was ’n Joodse towenaar en ’n vals profeet.

7. Barjesus was daar by die goewerneur, Sergius Paulus. Sergius Paulus was ’n verstandige man. Die goewerneur het toe vir Barnabas en Saulus laat roep omdat hy baie graag die boodskap oor God wou hoor.

8. In die Griekse taal was die towenaar se naam Elimas. Hy het vir Barnabas en Saulus probeer keer omdat hy nie wou hê dat die goewerneur in Jesus moet glo nie.

9. Maar die Heilige Gees was in Saulus, Saulus se ander naam was Paulus. Hy het reguit na Elimas gekyk.

10. Paulus het vir hom gesê: “Jy is ’n kind van die duiwel. Jy bedrieg mense en jy doen net verkeerde dinge. Jy is ’n vyand van alles wat reg is, jy moet ophou om die reguit paaie van die Here krom te maak.

11. Die Here sal nou teen jou wees en jy sal blind wees en jy sal ’n tyd lank nie die son kan sien nie.”Elimas het toe dadelik gedink dat dit donker geword het, soos onder ’n wolk, en hy het aangehou soek na mense wat sy hand kan neem om hom te lei.

12. Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy in Jesus geglo, en hy was baie verbaas oor wat die mense oor die Here geleer het.

13. Paulus en sy vriende het met ’n skip weggeseil van die hawe van Pafos en hulle het aangekom by die stad Perge in die provinsie Pamfilië. Johannes het daar weggegaan van hulle en hy het teruggegaan na Jerusalem.

14. Maar Paulus en die ander vriende het van Perge verder gegaan na die stad Antiogië in die provinsie Pisidië. Op die Sabbatdag het hulle in die sinagoge ingegaan en gaan sit.

15. Nadat iemand ’n deel uit die Wette van Moses en ’n deel uit die boeke van die profete gelees het, het die leiers van die sinagoge iemand na Paulus en sy vriende toe gestuur om vir hulle te sê: “Vriende, as iemand van julle iets wil sê om die volk te bemoedig, dan moet julle nou praat.”

16. Paulus het toe opgestaan en hy het met sy hand gewys dat hulle moet stilbly. Hy het gesê:“Israeliete, en julle ander wat vir God respekteer, julle moet luister na wat ek sê.

17. Die God van hierdie volk Israel het ons voorouers gekies, en toe hulle vreemdelinge in die land Egipte was, het Hy die volk baie meer laat word. Hy het gewys hoe sterk Hy is en Hy het die volk Israel uitgelei uit Egipte.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13