Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 11:5-20 Bybel vir Almal (ABA)

5. “Ek was besig om in die stad Joppe te bid, toe ek iets gesien het, soos in ’n droom. Ek het gesien dat iets soos ’n groot stuk lap uit die hemel afkom na my toe, en dit het gelyk of iemand die lap aan die vier hoeke vasgehou het.

6. Toe ek goed kyk, het ek gesien in die lap is daar diere wat vier pote het en wat op die aarde bly, daar was ook wilde diere en diere wat kruip en voëls.

7. En ek het gehoor dat Iemand vir my sê: ‘Petrus, staan op, slag die diere en eet dit.’

8. Maar ek het geantwoord: ‘Nee, Here, ek kan dit nie doen nie, want ek het nog nooit iets geëet wat nie aan U gewy is of wat onrein is nie.’

9. Maar die Persoon het die tweede maal uit die hemel vir my gesê: ‘God het hierdie diere rein gemaak. Jý moenie sê dit is onrein nie.’

10. Dit het drie maal gebeur, en toe het iemand weer die lap met alles daarin opgetrek in die hemel in.

11. En skielik het daar drie mans by die huis gestaan, die huis waarin ons was. Kornelius het hulle van Sesarea na my toe gestuur.

12. En die Heilige Gees het vir my gesê om saam met hulle te gaan en nie te stry nie. Hierdie ses gelowiges van die stad Joppe het ook saam met my gegaan, en ons het in die huis van Kornelius ingegaan.

13. Kornelius het vir ons vertel dat hy gesien het ’n engel staan in sy huis, en die engel het vir hom gesê: ‘Jy moet iemand na Joppe stuur en vir Simon vra om saam te kom hiernatoe. Die mense noem vir Simon ook Petrus.

14. Simon sal dinge vir jou vertel, en as jy daarna luister, dan sal God vir jou en vir almal in jou huis red.’

15. “En toe ek begin praat, het die Heilige Gees in hulle gekom, soos die Gees in die begin ook in ons gekom het.

16. Toe het ek die woorde van die Here onthou wat Hy gesê het: ‘Johannes het julle met water gedoop, maar Ek sal vir júlle doop met die Heilige Gees.’

17. Die mense het in die Here Jesus begin glo, soos ons in die Here Jesus begin glo het. Toe het God vir hulle die Heilige Gees gegee, soos God die Gees vir ons gegee het. Ja, God het dit gedoen, daarom kon ek nie vir God probeer keer nie.”

18. Toe die Joodse gelowiges hierdie dinge gehoor het, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “Dit is nou so: God het ook vir die heidene gehelp om te verander sodat hulle kan lewe soos God wil hê hulle moet lewe.”

19. Nadat Stefanus gesterf het, het die Jode vir die gelowiges baie swaar laat kry en hulle het die gelowiges uit die land gejaag. Die gelowiges het deur die land gegaan, party het tot by die land Fenisië gegaan en ander het na die eiland Siprus en die stad Antiogië gegaan, en hulle het die boodskap van Christus net vir Jode gebring.

20. Party van hierdie gelowiges het van die eiland Siprus en van die stad Sirene na die stad Antiogië gekom. Hulle het ook gesels met die Jode wat Grieks gepraat het, en hulle het die goeie boodskap van die Here Jesus vir daardie Jode gebring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 11