Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:21-33 Bybel vir Almal (ABA)

21. Petrus klim toe af van die dak en hy gaan na die mans toe en vra vir hulle: “Julle soek my, hier is ek. Hoekom is julle hier?”

22. Toe antwoord hulle hom: “Die offisier Kornelius is ’n regverdige man, hy respekteer vir God, en die hele Joodse volk sê goeie dinge van hom. ’n Heilige engel het vir Kornelius gesê hy moet vir jou sê om na sy huis te kom sodat hy kan luister na wat jy sê.”

23. Petrus het toe die mans genooi om in die huis te kom en hy het gesê hulle mag die nag daar slaap.Die volgende dag het Petrus opgestaan en hy het saam met hulle gegaan. Party van die gelowiges van die hawestad Joppe het saam met hom gegaan.

24. Die volgende dag het Petrus in Sesarea aangekom. Kornelius het klaar sy familie en sy beste vriende bymekaargeroep, hy het vir Petrus gewag en was haastig dat hy moet kom.

25. Toe Petrus by die huis kom, het Kornelius hom gegroet en Kornelius het voor Petrus se voete gekniel soos ’n mens voor ’n koning kniel.

26. Maar Petrus het vir Kornelius gehelp om op te staan en hy het vir hom gesê: “Staan op! Ek is self ook net ’n mens, soos jy.”

27. Terwyl Petrus met Kornelius praat, het Petrus ingegaan in die huis. Hy sien toe daar is baie mense

28. en hy sê vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie by iemand mag wees wat nie ’n Jood is nie, ’n Jood mag ook nie vriende wees met iemand wat nie ’n Jood is nie. Maar God het vir my gewys dat ek nie mag sê dat iemand nie aan God gewy is óf dat hy onrein is nie.

29. Daarom was ek nie ongehoorsaam nie en het ek gekom toe julle gesê het dat ek hiernatoe moet kom. Sê nou asseblief vir my hoekom het julle gesê dat ek moet kom?”

30. Kornelius sê toe vir hom: “Drie dae gelede, op presies hierdie selfde tyd, drie-uur in die middag, was ek besig om te bid in my huis. Skielik het daar ’n man met blink klere voor my gestaan

31. en hy het gesê: ‘Kornelius, God het geluister na jou gebed en Hy het die goeie dinge gesien wat jy gedoen het.

32. Jy moet nou mense na die stad Joppe stuur om vir Simon te gaan haal. Die mense noem vir Simon ook Petrus. Hierdie Simon Petrus woon daar by ’n ander Simon, ’n leerlooier, sy huis is by die see.’

33. Daarom het ek dadelik mense na jou toe gestuur, en jy was baie vriendelik om hiernatoe te kom. Ons almal is nou hier bymekaar waar God ons kan sien. Ons is hier om te luister na alles wat die Here vir jou gesê het om vir ons te sê.”

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10