Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Christus het julle vrygemaak. Daarom moet julle vry bly. Julle moenie dat ander mense julle weer slawe van wette maak nie.

2. Ek, Paulus, sê nou vir julle: As julle vir julle laat besny, dan help dit nie dat julle in Christus glo nie.

3. Ek sê weer reguit vir julle: Elkeen wat hom laat besny, moet dan alles doen wat al die wette sê.

4. Julle wat dink God sal julle vryspreek omdat julle doen wat die wette sê, julle is nie meer by Christus nie. Julle het God se genade verloor.

5. Maar ons hoop en ons weet God sal ons vryspreek omdat ons die Heilige Gees het en in Christus glo.

6. As ons aan Christus Jesus behoort, dan maak dit nie saak of ons besny is of nie besny is nie. Wat is belangrik? Dit is belangrik dat ons moet glo en dat ons lief moet wees vir God en vir ander mense.

7. Julle het voorheen gedoen wat God wil hê, maar nou keer iemand vir julle en julle doen nie meer daardie dinge nie, die dinge wat mense doen wat die waarheid ken.

8. Dit is nie God wat vir julle keer nie. God het julle geroep, en julle is nou sy kinders.

9. Julle moet onthou ’n klein bietjie suurdeeg laat al die deeg rys.

10. Ek is seker julle sal dink soos ek dink, want julle behoort aan die Here. Maar God sal die man straf wat julle koppe deurmekaar maak. Dit maak nie saak wie daardie man is nie.

11. Vriende, daar is mense wat sê ek preek en sê gelowiges moet hulle laat besny, maar dit is nie waar nie. Ek het vir gelowiges gesê hulle moet hulle nie laat besny nie, dit is hoekom party mense my laat swaarkry. Want as ek vir gelowiges gesê het hulle moet hulle laat besny, dan was my boodskap oor die kruis van Christus nie vir party mense ’n probleem nie.

12. Ek wens al die mense daar by julle wat julle koppe deurmekaar maak en wat sê julle moet besny word, sny hulle eie geslagsorgane heeltemal af.

13. Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help.

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5