Ou Testament

Nuwe Testament

Efesiërs 4:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemelen Hy het gevangenessaamgeneem,Hy het vir die mensepresente gegee.

9. Ons lees:Hy het opgegaan.Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde.

10. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer.

11. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer.

12. Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is.

13. Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees.

14. Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see ronddryf of wat in die wind heen en weer waai nie.

15. Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus, Hy is ons Hoof.

16. Die kerk is soos ’n liggaam wat baie dele het, die dele is almal vas aan mekaar. Elke deel van die liggaam werk saam en help die liggaam om te groei en sterker te word. So laat Christus die kerk groei en sterker word. Dit gebeur wanneer ons lief is vir mekaar en vir mekaar help.

17. Ek sê nou vir julle iets wat baie belangrik is vir die Here: Julle het voorheen gelewe soos die heidene lewe. Hulle dink en doen dinge wat niks beteken nie. Julle moenie soos hulle lewe nie.

18. Die heidene lewe soos mense wat niks kan verstaan nie, hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip.

19. Hulle voel nie skaam wanneer hulle verkeerde dinge doen nie. Hulle doen meer en meer slegte dinge, omdat hulle altyd meer en meer wil hê.

20. Maar julle het vir Christus leer ken en toe het julle geleer dat al daardie dinge verkeerd is.

Lees volledige hoofstuk Efesiërs 4