Ou Testament

Nuwe Testament

2 Timoteus 1:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek, Paulus, is ’n apostel van Christus Jesus omdat God dit besluit het. God het my gestuur om die goeie boodskap te bring dat Hy aan mense die ewige lewe wil gee, aan die mense wat aan Christus Jesus behoort.

2. Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Timoteus. Jy is vir my soos my kind, ek is lief vir jou. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Here genadig sal wees vir jou en dat Hy goed sal wees vir jou wanneer jy swaarkry. Ek bid ook dat Hy vir jou vrede sal gee.

3. Ek dien God soos my voorouers Hom ook gedien het. Ek weet wat is reg en wat is verkeerd, ek het niks gedoen wat verkeerd is nie. Ek bid gedurig tot God, elke dag en nag, en wanneer ek dit doen, dan dink ek aan jou en dan sê ek vir God dankie vir jou.

4. Ek onthou hoe hartseer jy was en ek wil jou graag weer sien, want dan sal ek baie bly wees.

5. Ek onthou dat jy waarlik in Christus glo. Jou ouma Loïs en jou ma Eunice het ook in Christus geglo. Ek is baie seker dat jy nou ook in Christus glo, soos hulle.

6. Daarom sê ek jy moet onthou dat God ’n genadegawe vir jou gegee het. Hy het dit vir jou gegee toe ek my hande op jou gesit het. Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos ’n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas.

7. God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen.

8. Jy moenie skaam wees om vir mense te vertel van ons Here nie. En ook, jy moenie skaam wees oor my wat in die tronk is omdat ek aan die Here behoort nie. Nee, jy moet saam met my swaarkry wanneer jy die goeie boodskap vir mense bring, want God sal vir jou die krag gee om dit te doen.

9. Toe God ons gered en gekies het, het Hy ons gewy om aan Hom te behoort. Hy het dit gedoen, maar nie omdat óns iets gedoen het nie. Nee, Hy het ons gered omdat Hy self besluit het om genadig te wees vir ons. Voordat die tyd begin het, het God besluit dat ons aan Christus Jesus moet behoort.

10. En nou het God dit vir ons gewys sodat ons dit self kon sien. Christus Jesus het gekom, Hy is die Een wat ons red. Hy het die dood heeltemal oorwin toe Hy die goeie boodskap gebring het, die goeie boodskap wat duidelik vir ons wys wat die lewe is wat nooit sal ophou nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Timoteus 1