Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 3:4-14 Bybel vir Almal (ABA)

4. Hulle sal sê: “Die Here het belowe dat Hy weer sal kom, maar hoekom het Hy nog nie gekom nie? Want ons voorvaders het lank gelede gesterf, maar alles bly dieselfde soos dit van die begin af was toe God alles gemaak het.”

5. Die mense wat spot, sal hierdie dinge sê, want hulle wil nie onthou dat die hemel lank gelede klaar daar was en dat die aarde uit die water gekom het nie. God het gesê dit moet so wees. Hy het die aarde uit die water laat kom.

6. God het gesê die water moet oor die wêreld van daardie tyd vloei en dit moet die wêreld verwoes.

7. Dit is ook God wat gesê het dat die hemel en die aarde wat nou daar is, nog daar moet wees en dat Hy dit sal verbrand op die oordeelsdag wanneer Hy die sondaars vir altyd sal laat sterf.

8. Maar my vriende, julle moenie hierdie een ding vergeet nie. Een dag is vir die Here soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar is vir Hom soos een dag.

9. Party mense dink dat die Here ’n lang tyd neem om te doen wat Hy belowe het. Maar dit is nie waar nie. Nee, die Here is jammer vir julle, want Hy wil nie hê dat party mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat al die mense moet lewe soos Hy wil hê hulle moet lewe.

10. Maar die dag van die Here sal kom wanneer niemand sal dink dat dit sal gebeur nie. Daardie dag sal kom soos ’n dief wat kom wanneer niemand dink dat hy sal kom nie. Op daardie dag sal dit baie hard raas en dreun, en die hemel sal verdwyn. Die sterre in die lug sal smelt en verdwyn. Die Here weet wat almal op die aarde gedoen het en Hy sal hulle oordeel.

11. God sal al hierdie dinge so laat verdwyn, daarom moet julle ook julle hele lewe aan God wy en daarom moet julle Hom dien.

12. Julle moet wag vir die dag van God, julle moet wens dat die dag gou sal kom. Op daardie dag sal die hemel en die sterre verbrand en smelt en verdwyn.

13. Maar ons wag vir die nuwe hemel en nuwe aarde wat God belowe het, daar sal mense altyd doen wat God wil hê.

14. Daarom, my vriende, terwyl julle wag dat hierdie dinge sal gebeur, moet julle heeltemal reg lewe. Julle moet probeer om nie dinge te doen waaroor julle skaam sal moet wees nie, en julle moet in vrede lewe.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 3