Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 5:14-21 Bybel vir Almal (ABA)

14. Ons bring hierdie boodskap oor Christus omdat Christus lief is vir ons. Ons móét hierdie boodskap bring. Almal moes gesterf het, maar een Mens het gesterf. Hy het dit vir almal gedoen, en daarom het hulle almal gesterf.

15. Ja, Christus het vir almal gesterf. Daarom moet die mense wat nou ’n nuwe lewe het, nie meer lewe vir hulleself nie. Nee, hulle moet lewe vir Christus, want Christus het vir hulle gesterf, en God het Hom weer laat lewe. Christus het dit gedoen vir die mense wat nou ’n nuwe lewe het.

16. Daarom, van nou af dink ons nie meer soos ongelowiges oor mense nie. Ons het miskien voorheen oor Christus gedink soos mense wat ongelowig is, maar nou doen ons dit nie meer nie.

17. As iemand aan Christus behoort, dan het God daardie persoon ’n nuwe mens gemaak. Die persoon se ou lewe is verby, ja, hy het ’n nuwe lewe gekry.

18. Dit is God wat al hierdie dinge gedoen het. Hy het ons met Hom versoen omdat ons aan Christus behoort. God het vir ons die werk gegee om mense met Hom te versoen.

19. Dit beteken dat God die wêreld met Hom versoen het omdat mense aan Christus behoort. Hy het die sonde wat mense gedoen het, nie gestraf nie. En Hy het vir ons gesê ons moet vir mense vertel dat God so vir hulle versoening gedoen het.

20. Ons werk nou vir Christus omdat God ons gekies het. God gebruik ons om vir julle te preek. Daarom vra ons vir julle mooi maar ernstig, nee, dit is Christus wat dit vra: Julle moet aanvaar dat God versoening gedoen het vir julle.

21. Christus het self nie sonde gedoen nie. Maar God het vir Christus laat voel hoe dit is om swaar te kry oor die sonde wat mense doen. God het dit vir ons gedoen. Want God het ons nou vrygespreek van ons sonde omdat ons aan Christus behoort.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 5