Ou Testament

Nuwe Testament

2 Korintiërs 1:3-15 Bybel vir Almal (ABA)

3. Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig.

4. Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig.

5. Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort.

6. Wanneer ons swaarkry, dan kry ons swaar sodat ons vir julle kan bemoedig en sodat julle geestelik kan lewe. Wanneer God vir ons bemoedig, dan doen Hy dit sodat ons vir julle kan bemoedig. Wanneer julle swaarkry, dan voel julle hoe ons swaarkry en dan voel julle ook hoe God vir julle bemoedig.

7. Ons hoop dat daar goeie dinge met julle sal gebeur, en dit is seker dat dit sal gebeur. Julle kry ook swaar soos ons, daarom weet ons dat God vir julle ook sal bemoedig soos Hy vir ons bemoedig het.

8. Vriende, ons wil hê dat julle moet weet hoe swaar ons gekry het in Asië. Ons het baie swaar gekry, dit was vir ons te veel, ons het gedink ons sal doodgaan.

9. Ons het gevoel soos mense wanneer die regter besluit het dat hulle moet sterf. Ons kon onsself nie meer help nie. Ons kon net vertrou op God omdat Hý die Een is wat mense weer laat lewe nadat hulle gesterf het.

10. God het ons gered uit hierdie groot gevaar, uit die dood. Hy sal ons weer red. Ons hoop en ons is seker dat Hy ons altyd sal red.

11. Julle help ons ook baie wanneer julle vir ons bid. As God ons red, dan is daar baie mense in die gemeente wat vir God dankie sê omdat Hy ons gered het.

12. Ons is trots daarop dat ons reg gedoen het aan al die mense en spesiaal aan julle. As ons goed dink daaroor, dan weet ons in ons harte dat dit Gód is wat ons so reg laat lewe het. Ons het dit reggekry omdat God genadig was vir ons, nie omdat die wêreld ons so slim gemaak het nie.

13. Die dinge wat julle in ons briewe lees, is die dinge wat ons vir julle wil sê, en julle moet dit so verstaan. Ek hoop dat julle alles meer en meer sal verstaan

14. soos julle klaar begin het om ons te verstaan. Ja, ons wil hê dat julle trots sal wees op ons, so trots soos ons sal wees op julle, daardie dag wanneer ons Here Jesus weer kom.

15. Ek was seker dat julle verstaan, en daarom het ek besluit om eers na julle toe te kom, sodat julle twee maal bly kan wees wanneer julle my sien.

Lees volledige hoofstuk 2 Korintiërs 1