Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 16:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Niemand mag dink Timoteus is nie belangrik nie. Julle moet hom goed help wanneer hy verder moet gaan, sodat hy kan terugkom na my toe. Ek wil hom en die ander gelowiges graag weer sien.

12. Ek wou baie graag hê dat Apollos ook saam met die ander gelowiges na julle toe moes gaan. Maar hy het gedink dat dit nie nou die regte tyd is om te gaan nie. Hy sal gaan wanneer hy kan.

13. Julle moet oppas dat die duiwel julle nie verlei nie. Julle moet aanhou glo in die Here. Julle moet dapper en sterk wees.

14. Julle moet alles met liefde doen.

15. Julle weet dat Stefanas en sy mense die eerste mense in die provinsie Agaje was wat gelowiges geword het. En hulle het baie gedoen om die ander gelowiges te help. Vriende, ek vra mooi

16. dat julle ook vir leiers soos Stefanas en sy mense moet help. Ja, julle moet vir almal help wat hard werk vir die Here.

17. Ek is baie bly dat Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier by my gekuier het. Dit het my gehelp om nie so baie te verlang na julle nie.

18. Hulle het my weer lekker laat voel. En ek is seker hulle het julle harte ook bly gemaak toe hulle al die nuus oor my vir julle vertel het. Julle moet goed luister na hulle.

19. Die gemeentes in Asië stuur groete vir julle. Akwila en Priska stuur ook groete. Die gelowiges wat altyd in hulle huis bymekaarkom, stuur ook groete. Hulle stuur baie vriendelike groete omdat julle en hulle almal aan die Here behoort.

20. Al die gelowiges stuur groete vir julle. Julle moet mekaar groet met die soen wat wys dat julle almal aan Christus behoort.

21. Ek skryf nou hierdie laaste paar woorde met my eie hand sodat julle kan sien dat hierdie brief regtig van my kom.

22. As iemand nie lief is vir die Here nie, dan sal die Here hom straf. Ons Here, U moet asseblief kom!

23. Die Here Jesus sal genadig wees vir julle.

24. Ek is baie lief vir julle almal, want ons behoort aan Christus Jesus.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 16