Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 14:8-24 Bybel vir Almal (ABA)

8. En wanneer iemand nie hard en duidelik op die trompet blaas sodat almal dit kan hoor nie, dan sal die soldate nie gereedmaak om oorlog te maak nie.

9. Dit is dieselfde in die gemeente. Wanneer iemand praat, maar julle kan nie verstaan wat hy sê nie, sal julle dan weet wat die persoon wil sê? Nee. Dan is dit soos wanneer iemand praat, maar die wind waai sy woorde weg.

10. Daar is baie tale in die wêreld. En elke taal het mense wat die woorde verstaan.

11. Maar as ek nie verstaan wat iemand sê nie, dan is ek vir hom soos iemand wat die taal praat van ’n ander land en hy is vir my soos iemand van ’n ander land.

12. Dit moenie so wees by julle nie. Julle wil graag die dinge hê wat die Heilige Gees vir julle gee. Daarom moet dit vir julle baie lekker wees om die mense in die gemeente se geloof sterk te maak.

13. Daarom, wanneer iemand in tale praat, dan moet hy ook bid dat hy sal kan sê wat dit beteken.

14. Want wanneer ek in tale bid, dan bid my hart, maar ek dink nie met my verstand wat ek bid nie.

15. Wat moet ek dan doen? Ek sal bid met my hart, maar ek sal ook bid met my verstand. Ek sal vir die Here sing met my hart, maar ek sal ook met my verstand vir die Here sing.

16. Maar onthou: Wanneer jy met jou hart bid en jy prys die Here, dan is daar miskien iemand wat nie die genadegawe het om tale te verstaan nie. Kan daardie persoon dan saamstem en “amen” sê wanneer jy vir die Here dankie sê? Nee, want hy verstaan nie wat jy sê nie.

17. Jy sê miskien mooi dankie vir die Here, maar dit maak nie die ander persoon se geloof sterk nie.

18. Ek sê dankie vir God dat ek meer as julle almal in tale praat.

19. Maar vir my is dit beter om in die gemeente net vyf woorde met my verstand te praat as om 1 000 woorde in tale te praat. Want as ek met my verstand praat, dan kan ek vir die gemeente leer.

20. Vriende, julle moenie soos kinders dink nie. Ja, wanneer julle verkeerde dinge wil doen, dan moet julle soos babas wees. Maar julle moet soos grootmense dink.

21. In die Ou Testament is geskryf: Die Here sê: “Ek sal methierdie volk praatin tale wat hulle nie ken nie,in die tale van mensevan ander lande,maar ook dán sal hulle nie luisterna My nie.”

22. Dit beteken: Die genadegawe om in tale te praat, is ’n teken vir mense wat nie glo nie. Dit is nie ’n teken vir mense wat glo nie. Maar die genadegawe om God se boodskap te bring, is ’n teken vir mense wat glo, dit is nie ’n teken vir mense wat nie glo nie.

23. Daarom, wanneer die hele gemeente bymekaarkom en daar kom miskien mense in wat nie vir julle ken nie, dan sal hulle dink julle is mal. Of as daar mense inkom wat nie in Christus glo nie, dan sal hulle ook dink julle is mal.

24. Maar as almal die boodskap van God bring, en daar kom iemand in wat nie in Christus glo nie, of dit is iemand wat nie vir julle ken nie, dan sal hy voel almal praat met hom oor die dinge wat verkeerd is in sy lewe. Hy sal voel almal sê vir hom dat God hom sal straf oor sy sondes.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 14