Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 5:13-21 Bybel vir Almal (ABA)

13. Ek skryf al hierdie dinge vir julle sodat julle seker kan wees dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

14. Wanneer ons by God is, dan is ons nie bang nie, want ons weet dat Hy luister wanneer ons die dinge vir Hom vra wat Hy wil hê ons moet vra.

15. Hy luister wanneer ons dit vra. Daarom weet ons dat Hy al klaar vir ons iets gegee het wanneer ons dit vir Hom vra.

16. Wanneer julle sien dat die ander gelowiges sonde doen, en dit is sonde wat God sal vergewe, dan moet julle bid vir daardie gelowiges. Julle moet bid vir die gelowiges wat sonde doen wat God sal vergewe. As julle vir hulle bid, dan sal God die ewige lewe vir hulle gee. Maar daar is ook sonde wat God nie sal vergewe nie, en ek sê nie dat julle daarvoor moet bid nie.

17. Alles wat verkeerd is, is sonde, maar daar is sonde wat God vergewe, en daar is sonde wat God nie vergewe nie.

18. Ons weet dat kinders van God nie aanhou om sonde te doen nie, want die Seun van God beskerm hulle. Daarom kan die duiwel niks aan hulle doen nie.

19. Ons weet dat ons kinders van God is en dat die duiwel regeer oor al die ander mense.

20. Ons weet dat die Seun van God gekom het en dat Hy ons gehelp het om die ware God te leer ken. Nou is ons by die ware God en by sy Seun, Jesus Christus. Jesus is regtig God, Hy gee vir ons die ewige lewe.

21. Vriende, julle moet oppas vir die afgode!

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 5