Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 14:11-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees.

12. Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.

13. Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval.

14. Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede.

15. Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.

16. Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier.

17. Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie.

18. En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.

19. Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.

20. Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here” en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees.

21. Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 14