Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:21-36 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. Jotam het toe gevlug. Hy het na Beër toe padgegee en daar gaan woon omdat hy bang was vir sy broer Abimelek.

22. Abimelek het drie jaar lank oor Israel geregeer.

23. Toe het God vyandskap laat kom tussen Abimelek en die burgers van Sigem, en hulle het teen hom in opstand gekom.

24. God het dit oor Abimelek gebring oor die onreg wat hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God wou hulle dood wreek, en Hy het dié dinge oor die burgers van Sigem gebring omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25. Die burgers van Sigem het teen Abimelek hinderlae opgestel op die bergtoppe, en hulle het almal wat verbykom, beroof. Dit is aan Abimelek vertel.

26. Gaäl seun van Ebed en sy broers het daar verbygekom en in Sigem aangekom. Die burgers van Sigem het hom vertrou.

27. Hy en sy mense het op 'n keer lande toe gegaan om druiwe te pluk en te pars. Toe het hulle begin feesvier in die tempel van hulle god en nadat hulle geëet en gedrink het, het hulle vir Abimelek begin verkleineer.

28. Gaäl seun van Ebed het gevra: “En wie is Abimelek nogal, en wie is Sigem dat ons aan hom moet onderdanig wees? Moet Jerubbaäl se seun en sy goewerneur Sebul nie eerder aan die mense van Gamor, Sigem se voorvader, onderdanig wees nie? Waarom moet ons aan Abimelek onderdanig wees?

29. As ek in bevel was van hierdie mense, sou ek vir Abimelek verjaag het.”Gaäl het vir Abimelek gedaag: “Bring maar jou groot leër!”

30. Toe Sebul die stadsgoewerneur verneem wat Gaäl seun van Ebed gesê het, het hy baie kwaad geword.

31. Hy het 'n boodskap aan Abimelek in Torma gestuur: “Gaäl seun van Ebed en sy mense het na Sigem toe gekom en hulle sweep die stad teen jou op.

32. Jy en jou manne moet vannag kom en in die veld 'n hinderlaag opstel.

33. En môreoggend teen sonop moet jy die stad storm. Dan sal hy en die mense by hom teen jou optrek en kan jy vir Gaäl straf.”

34. Abimelek en al sy manne het toe in die nag klaargemaak en op vier punte 'n hinderlaag teen Sigem opgestel.

35. Toe Gaäl seun van Ebed op pad buitentoe by die stadspoort gaan staan, het Abimelek en sy manne juis in die hinderlaag opgestaan.

36. Gaäl het die manne gesien en vir Sebul gesê: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af.”Maar Sebul sê vir hom: “Dis die skaduwee van die berg wat jy vir mense aansien.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 9