Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:17-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. My pa het in julle belang gaan oorlog maak, hy het sy lewe openlik in gevaar gestel, hy het julle uit die mag van die Midianiete bevry.

18. Maar julle het vandag in opstand gekom teen hom en sy huis, en julle het sy sewentig seuns almal op een klip doodgemaak. En toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die burgers van Sigem net omdat hy julle familie is.

19. As julle vandag opreg en in goeie trou gehandel het teenoor Jerubbaäl en sy huis, moet julle bly wees oor Abimelek en hy moet bly wees oor julle.

20. Maar as dit nie so is nie, moet daar 'n vuur uit Abimelek uitgaan en die burgers van Sigem en die mense van Millo verteer. Daar moet ook 'n vuur uit die burgers van Sigem en die mense van Millo uitgaan en vir Abimelek verteer.”

21. Jotam het toe gevlug. Hy het na Beër toe padgegee en daar gaan woon omdat hy bang was vir sy broer Abimelek.

22. Abimelek het drie jaar lank oor Israel geregeer.

23. Toe het God vyandskap laat kom tussen Abimelek en die burgers van Sigem, en hulle het teen hom in opstand gekom.

24. God het dit oor Abimelek gebring oor die onreg wat hy sy broers, die sewentig seuns van Jerubbaäl, aangedoen het toe hy hulle vermoor het. God wou hulle dood wreek, en Hy het dié dinge oor die burgers van Sigem gebring omdat hulle vir Abimelek gehelp het om sy broers te vermoor.

25. Die burgers van Sigem het teen Abimelek hinderlae opgestel op die bergtoppe, en hulle het almal wat verbykom, beroof. Dit is aan Abimelek vertel.

26. Gaäl seun van Ebed en sy broers het daar verbygekom en in Sigem aangekom. Die burgers van Sigem het hom vertrou.

27. Hy en sy mense het op 'n keer lande toe gegaan om druiwe te pluk en te pars. Toe het hulle begin feesvier in die tempel van hulle god en nadat hulle geëet en gedrink het, het hulle vir Abimelek begin verkleineer.

28. Gaäl seun van Ebed het gevra: “En wie is Abimelek nogal, en wie is Sigem dat ons aan hom moet onderdanig wees? Moet Jerubbaäl se seun en sy goewerneur Sebul nie eerder aan die mense van Gamor, Sigem se voorvader, onderdanig wees nie? Waarom moet ons aan Abimelek onderdanig wees?

29. As ek in bevel was van hierdie mense, sou ek vir Abimelek verjaag het.”Gaäl het vir Abimelek gedaag: “Bring maar jou groot leër!”

30. Toe Sebul die stadsgoewerneur verneem wat Gaäl seun van Ebed gesê het, het hy baie kwaad geword.

31. Hy het 'n boodskap aan Abimelek in Torma gestuur: “Gaäl seun van Ebed en sy mense het na Sigem toe gekom en hulle sweep die stad teen jou op.

32. Jy en jou manne moet vannag kom en in die veld 'n hinderlaag opstel.

33. En môreoggend teen sonop moet jy die stad storm. Dan sal hy en die mense by hom teen jou optrek en kan jy vir Gaäl straf.”

34. Abimelek en al sy manne het toe in die nag klaargemaak en op vier punte 'n hinderlaag teen Sigem opgestel.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9