Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:28-36-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

28. Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is.

29. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?”Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!”

30. Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.”

31. Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.”

32. Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.”

33. In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan.

34. Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg.

35. Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom.

36-37. Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 6