Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:21-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

21. en Ehud het sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek.

22. Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul, sodat Ehud dit nie kon uittrek nie. Hy het toe deur 'n geheime uitgang

23. en deur die voorportaal uitgegaan nadat hy die deur van die bovertrek toegetrek en gesluit het.

24. Nadat hy uit is, het Eglon se amptenare gekom en toe hulle sien dat die deure van die bovertrek gegrendel is, het hulle gedink die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koel vertrek.

25. Hulle het tot vervelens toe gewag, maar die koning het nie die deure van sy bovertrek oopgemaak nie, en toe hulle 'n sleutel vat en oopsluit, lê hulle koning daar dood op die vloer.

26. En omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug.

27. Toe hy daar kom, het hy die ramshoring op die Efraimsberge laat blaas. Die Israeliete het van daar af na hom toe gekom. Hy het hulle leier geword

28. en vir hulle gesê: “Kom saam met my, want die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag oor.”Hulle is toe saam met hom en hulle het die Jordaandriwwe na Moab toe beset en niemand daar laat deurgaan nie.

29. By daardie geleentheid het hulle die Moabiete verslaan: omtrent tien duisend man, almal sterk en goeie soldate. Niemand het ontsnap nie.

30. Moab is daardie dag deur Israel onderwerp, en daar was tagtig jaar lank vrede in die land.

31. Na Ehud het Samgar seun van Anat opgetree. Hy het ses honderd Filistyne doodgeslaan met 'n stok en so vir Israel gered.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3