Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:7-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind.

9. Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!”Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.”

11. Hy het gesê: “As ek behoorlik vasgebind word met nuwe toue wat nog nooit gebruik is nie, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

12. Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind, en toe sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”Daar het weer manne in haar kamer weggekruip, maar Simson het die toue aan sy arms gebreek asof dit garingdraad was.

13. Delila het vir Simson gesê: “Hoe lank gaan jy nog 'n gek van my maak en vir my leuens vertel? Sê my tog waarmee kan jy vasgebind word.”Hy sê toe vir haar: “Jy moet net my sewe haarlokke in jou materiaal op die weefstoel vasweef.”

14. Toe sy alles klaar met 'n pen vasgesteek het, sê sy vir hom: “Die Filistyne is hier, Simson!”Hy het wakker geskrik en die materiaal met pen en al uit die weefstoel losgeruk.

15. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê jy het my lief as jy my nie vertrou nie? Jy het my nou al drie keer bedrieg en my nie vertel waarin jou groot krag lê nie.”

16. So het sy dae lank by hom bly neul en hom lastig geval. Hy het so ongeduldig geraak dat hy kon sterf.

17. Toe vertel hy haar sy lewensgeheim. Hy het vir haar gesê: “My hare is nooit geskeer nie, want ek is van my geboorte af aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn en ek sal magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

18. Delila het besef dat hy haar hierdie keer sy lewensgeheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat roep: “Kom hierdie keer! Hy het my sy lewensgeheim vertel.”Hulle het toe na haar toe gekom en die geld saamgebring.

19. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak en 'n man geroep, en hy het Simson se sewe haarlokke afgeskeer. So het sy hom laat swak word, sy krag het verdwyn.

20. Toe sy sê: “Die Filistyne is hier, Simson!” het hy wakker geskrik en gedink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk.Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 16