Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16:3-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

3. Maar Simson het net bly lê tot middernag. Toe staan hy op, vat die stadspoort se deure met hulle kosyne en al en ruk hulle so toegesluit uit. Hy het alles op sy skouer teen die berg regoor Hebron opgedra.

4. 'n Ruk later het Simson verlief geraak op 'n vrou in die Sorekvallei. Haar naam was Delila.

5. Die leiers van die Filistyne is toe na haar toe, en hulle het vir haar gesê: “Verlei hom en vind uit waarin lê sy groot krag en hoe ons hom kan oorrompel om hom vas te bind en in ons mag te kry. Elkeen van ons sal jou dan dertien kilogram silwer gee.”

6. Delila het toe vir Simson gevra: “Sê my tog waarin lê jou groot krag, en waarmee kan 'n mens jou vasbind om jou in sy mag te kry?”

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe boogsnare wat nog klam is, sal ek magteloos wees. Ek sal soos 'n gewone mens wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir haar sewe boogsnare wat nog klam is, gebring en sy het hom daarmee vasgebind.

9. Daar het ook manne in haar kamer weggekruip. Toe sê sy vir Simson: “Die Filistyne is hier, Simson!”Hy het die boogsnare gebreek soos 'n vlam garingdraad breek, en die geheim van sy krag het onbekend gebly.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy het 'n gek van my gemaak en vir my leuens vertel. Sê my tog nou waarmee kan 'n mens jou vasbind.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 16