Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11:13-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

13. Die koning van die Ammoniete het die boodskappers van Jefta geantwoord: “Toe die Israeliete uit Egipte weggetrek het, het hulle my land gevat, van die Arnon af tot by die Jabbok en die Jordaan. Gee dit nou in vrede terug.”

14. Jefta het toe weer boodskappers na die koning van die Ammoniete toe gestuur

15. om vir hom te sê: “So sê Jefta: Israel het nie die grond van die Moabiete en die grond van die Ammoniete gevat nie.

16. Toe Israel uit Egipte weggetrek het, het hy deur die woestyn getrek tot by die Rietsee, en toe het hy by Kades aangekom.

17. Daar het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en gevra: ‘Laat my asseblief deur jou land trek,’ maar hy het nie ingestem nie. Israel het dieselfde van die koning van Moab gevra, maar hy wou hulle nie toelaat nie. Israel het toe in Kades gebly.

18. Daarna het hy deur die woestyn getrek, by die gebied van Edom en dié van Moab verby en oos van Moab, noord van die Arnon, kamp opgeslaan. Hy het nie in die gebied van Moab gekom nie, want die Arnon is Moab se grens.

19. Toe het Israel boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe in Gesbon en vir hom gevra: ‘Laat my tog na my plek toe trek deur jou gebied.’

20. Maar Sihon het nie vir Israel vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele volk bymekaargemaak, en hulle het by Jahas kamp opgeslaan en teen Israel begin veg.

21. Die Here die God van Israel het vir Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee, en hy het hulle verslaan en die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het, in besit geneem.

22. “Die Israeliete het die hele gebied van die Amoriete in besit geneem, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan.

23. Die Here die God van Israel het die Amoriete weggedryf voor sy volk Israel uit, en wil jy hom nou kom verdryf?

24. Jy besit wat jou god Kemos jou in besit laat neem het. Wat die Here ons God ons in besit laat neem het, is ons s'n.

Lees volledige hoofstuk Rigters 11