hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 1 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die wêreld bly altyd dieselfde

1. Woorde van die Prediker, seun van Dawid en koning in Jerusalem.

2. Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.

3. Wat kry die mens vir sy geswoeg,sy geswoeg in hierdie wêreld?

4. Geslagte kom en geslagte gaan,maar die wêreld bly altyd dieselfde.

5. Die son kom op, die son gaan onder,en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.

6. Die wind waai suid, draai noord,waai hierheen en daarheenen dan draai hy maar weer.

7. Al die riviere loop in die see in,maar die see word nooit vol nie.Die riviere hou aan om te loopna die plek toe waarheen hulle altyd geloop het.

8. Woorde vervaag mettertyd,en 'n mens kry nie klaar met praat nie.Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie;die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie.

9. Wat was, sal weer wees;wat gebeur het, sal weer gebeur.Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie.

10. Kan jy van iets sê dit is nuut?Nee, dit was lankal daar,lank voor ons tyd.

11. Wat verby is, word vergeet,en ook wat later kom,sal vergeet word deur dié wat daarna kom.

Baie wysheid stel hoë eise

12. Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.

13. Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. Ek het bevind: God het 'n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.

14. Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk:alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.

15. Wat krom is, kan nie reguit word nie;wat nie daar is nie, kan nie getel word nie.

16. Ek het by myself gedink: ek het meer wysheid as almal wat voor my in Jerusalem geregeer het, ek het baie ervaring en insig.

17. Ek het my daarop toegelê om te verstaan wat wysheid en kennis is, en wat dit is om 'n gebrek aan wysheid en kennis te hê. Ek het vasgestel: ook dit is 'n gejaag na wind.

18. Baie wysheid stel hoë eise,wie kennis versamel, versamel smart.