Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 5:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. “Die offergawes wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens van die Here, behoort aan die priester.

10. Die gewyde gawes wat iemand bring, bly sy eie, maar wat die priester toekom, moet aan hom gegee word.”

11. Die Here het aan Moses opdrag gegee

12-15. om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is.

16. Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17. Die priester moet 'n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi.

18. Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat 'n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, self vashou.

Lees volledige hoofstuk Numeri 5