Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 5:11-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

11. Die Here het aan Moses opdrag gegee

12-15. om vir die Israeliete te sê: “As 'n man agterdogtig word, sodat hy sy vrou van ontrou verdink, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou ontrou teenoor haar man was en met iemand anders geslagsgemeenskap gehad het sonder dat haar man daarvan weet of dat sy uitgevind is. Dit kan ook wees dat, hoewel sy oortree het, daar geen getuie teen haar is nie en sy nie betrap is nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou verdink hoewel sy niks verkeerds gedoen het nie. Die man moet sy vrou na die priester toe bring saam met die voorgeskrewe offer: een en 'n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, omdat die offer bedoel is vir 'n geval van agterdog, 'n offer wat moet aantoon of daar oortree is.

16. Die priester moet haar dan nader bring en in die teenwoordigheid van die Here laat staan.

17. Die priester moet 'n erdebak met gewyde water vol maak en van die tabernakelvloer se stof daarin gooi.

18. Dan moet hy die vrou in die teenwoordigheid van die Here laat staan, haar hare losmaak en haar die voorgeskrewe offer, wat 'n offer vir die agterdog is, gee om vas te hou. Die priester moet die erdebak met water wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, self vashou.

19. Hy moet die vrou onder eed plaas en vir haar sê: As iemand anders nie met jou gemeenskap gehad het nie en jy as getroude vrou jouself nie met 'n ander man verontreinig het nie, mag jou onskuld dan bewys word deur hierdie water wat bittere smart en 'n vloek oor jou kan bring.

20. Maar as jy, as getroude vrou, ontrou was en jouself verontreinig het deurdat jy met iemand anders behalwe jou eie man gemeenskap gehad het,

21-22. mag die Here dan gee dat jou eie mense jou sal vervloek en verwens. Mag Hy jou vrugbaarheid laat vergaan en jou buik laat opswel. Mag hierdie water wat die vloek veroorsaak, in jou maag kom om jou buik te laat opswel en jou vrugbaarheid te laat vergaan.“Dit alles moet die priester sê vir die vrou wat staan onder 'n eed dat 'n vloek haar kan tref as sy skuldig is. Dan moet sy sê: ‘Amen, amen.’

23. “Die priester moet hierdie vervloekinge neerskrywe en die letters uitwis in die water wat bittere smart sou kan veroorsaak.

24. Hy moet die vrou van die water laat drink wat bittere smart en 'n vloek oor haar kan bring, sodat die water wat 'n vloek van bittere smart veroorsaak, in haar kan ingaan.

25. Daarna moet die priester uit haar hand die offer vat wat vir die agterdog bedoel is, dit in teenwoordigheid van die Here beweeg en dit na die altaar toe bring.

26. Die priester moet ook 'n handjievol van die graanoffer as simbool van haar hele offer vat en op die altaar verbrand, en daarna moet hy die vrou die res van die water laat drink.

27. Die water wat hy haar laat drink, sal, as sy haar verontreinig en troubreuk teenoor haar man gepleeg het, in haar ingaan en die vloek meebring wat bittere smart sal veroorsaak, en dit sal haar buik laat opswel. Haar vrugbaarheid sal vergaan en haar mense sal haar vervloek.

Lees volledige hoofstuk Numeri 5