Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 5:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Ek, my medeamptenare en my helpers moes ook aan dié mense geld en koring leen. Maar laat ons tog die uitbuiting staak.

11. Gee vandag nog hulle lande, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle terug en skeld hulle ook nog een persent kwyt van die geld, die koring, die wyn en die olie wat julle aan hulle geleen het.”

12. Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en niks meer van hulle eis nie. Ons sal maak soos u gesê het.”Ek het toe die priesters geroep en die burgers en amptenare onder eed laat onderneem om hiervolgens te handel.

13. Self het ek my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God elkeen wat nie woord hou nie, so uit sy huis en sy besittings uitskud, dat hy net so kaal uitgeskud en leeg is.”Die hele vergadering het gesê: “Amen!” en hulle het die Here geprys. Die mense het toe gedoen wat ek gevra het.

14. Van die dag af dat ek aangestel is as goewerneur in Juda, van die twintigste jaar af tot die twee en dertigste jaar van koning Artasasta, twaalf jaar lank, het ek en my medeamptenare nie aanspraak gemaak op die goewerneurstoelae nie.

15. Die vroeëre goewerneurs, almal voor my, het swaar eise aan die volk gestel. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog vier honderd en sestig gram silwer geëis. Hulle amptenare het ook baas gespeel oor die volk. Ek het nie so gemaak nie, uit eerbied vir God.

16. Ek het my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur, ek het nie lande gekoop nie, en al my helpers was hier by die werk saamgetrek.

17. Honderd en vyftig man van die Judeërs en die amptenare en boonop die mense wat van die heidennasies rondom ons na ons toe gekom het, het aan my tafel geëet.

18. Daar moes elke dag 'n bees, ses slagskape en 'n klomp voëls vir my gaargemaak word, en om die tien dae moes daar 'n groot hoeveelheid wyn vir die menigte kom. Nogtans het ek nie die goewerneurstoelae geëis nie, want die werk was alreeds 'n swaar las op hierdie volk.

19. Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat ek vir hierdie volk gedoen het!

Lees volledige hoofstuk Nehemia 5