Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:5-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. Hulle het alles wat Moses beveel het, na die voorkant van die tent van ontmoeting toe gebring en die hele gemeente het saamgekom en in die teenwoordigheid van die Here kom staan.

6. Toe sê Moses: “Ons sal nou doen wat die Here beveel het. Dan sal die magtige teenwoordigheid van die Here aan julle geopenbaar word.”

7. Moses sê toe vir Aäron: “Kom nader na die altaar toe en offer die sondeoffer en die brandoffer wat vir jouself bedoel is, en doen versoening vir jouself en jou mense. Bring daarna die offer van die volk en doen versoening vir hulle soos die Here beveel het.”

8. Aäron het nader gegaan na die altaar toe en die kalf geslag wat bedoel was as sondeoffer vir homself.

9. Sy seuns het die bloed vir hom na die altaar toe gebring en hy het sy vinger in die bloed gesteek en daarvan aan die horings van die altaar gesmeer. Die res van die bloed het hy teen die fondament van die altaar uitgegooi.

10. Die vet, die niere en die punt van die lewer van die sondeofferdier het hy op die altaar verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

11. Die vleis en die vel is egter buite die kamp verbrand.

12. Daarna het hy die ram geslag wat vir homself bedoel was as brandoffer. Sy seuns het die bloed vir hom aangegee, en hy het dit rondom teen die altaar gesprinkel.

13. Hulle het ook die stukke en die kop van die brandofferdier vir hom aangegee, en hy het dit op die altaar aan die brand gesteek.

14. Hy het die binnegoed en die pote gewas en dit bo-op die brandoffer op die altaar verbrand.

15. Daarna het Aäron die offer van die volk na die altaar toe gebring. Hy het die bokram wat as sondeoffer vir die volk bedoel was, gevat, hom geslag en geoffer op dieselfde manier as die vorige sondeoffer.

16. Hy het ook die brandoffer van die volk na die altaar toe gebring en dit volgens die voorskrif geoffer.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9