Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:9-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

9. Hy het die tulband om sy kop gesit en die goue blom aan die voorkant van die tulband vasgesit as 'n besondere wydingsteken. Dit is alles gedoen soos die Here Moses beveel het.

10. Moses het toe met die salfolie die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf. So het hy dit vir die diens van die Here gewy.

11. Hy het naamlik sewe maal van die olie teen die altaar gesprinkel en die altaar met al sy gereedskap en ook die waskom en sy staander gesalf om dit te wy.

12. Hy het ook van die salfolie op Aäron se kop gegooi om hom te salf en aan die diens van die Here te wy.

13. Toe het Moses die seuns van Aäron by die altaar laat plek inneem, die priesterklere vir hulle aangetrek, hulle serpe omgebind en hulle kopdoeke vasgemaak. Hy het dit gedoen soos die Here hom beveel het.

14. Hierna het hy die bul vir die sondeoffer na die altaar toe gebring, en Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die bul gesit.

15. Moses het die bul geslag en van die bloed met sy vinger rondom die horings van die altaar gesmeer om die altaar te reinig. Hy het toe die res van die bloed teen die fondament van die altaar uitgegooi. So het hy die altaar aan die Here gewy sodat daarop versoening gedoen kan word.

16. Hierna het Moses al die vet wat aan die binnegoed sit en die punt van die lewer saam met die twee niere en die niervet op die altaar verbrand.

17. Die res van die bul, die vel, die vleis en die pensmis is buite die kamp verbrand soos die Here vir Moses beveel het.

18. Toe is die ram vir die brandoffer nadergebring na die altaar toe. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit.

19. Moses het hom geslag en die bloed rondom teen die altaar uitgegooi.

20. Hy het die ram opgesny. Hy het die kop, die opgesnyde dele, die binnevet, en

21. nadat hy dit skoon gewas het, ook die binnegoed en pote verbrand. So het Moses die hele ram op die altaar verbrand. Dit was 'n brandoffer wat deur die Here aanvaar is, 'n vuuroffer wat aan die Here gebring is soos Hy Moses beveel het.

22. Hierna is die ander ram wat vir die priesterwyding bedoel was, na die altaar toe gebring. Aäron en sy seuns het hulle hande ook op die kop van dié ram gesit.

23. Moses het hom geslag en van die bloed aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en regtergroottoon gesmeer.

24. Moses het die seuns van Aäron laat naderkom en van die bloed ook aan húlle regteroorlelle, regterduime en regtergroottone gesmeer. Die res van die bloed het hy rondom teen die altaar uitgegooi.

25. Hy het die vet, dit is die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed sit, saam met die punt van die lewer, die twee niere met die niervet en die regterboud eenkant gesit.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8