Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:6-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Pak dit in twee stapels van ses elk op die goue tafel voor die Here.

7. Sit dan op elke stapel 'n bakkie suiwer wierook. Die wierook is 'n offer van die Here in die plek van die brood.

8. Die brood moet gereeld op elke sabbat daar voor die Here vervang word. Dit is 'n verpligting wat vir altyd op die Israeliete rus.

9. Die brood kom Aäron en sy seuns toe. Hulle moet dit op 'n gewyde plek eet, want dit is 'n besondere gewyde gawe. Dit is 'n deel wat hulle altyd moet kry uit die offers wat aan die Here gebring word.”

10-11. Daar was 'n man tussen die Israeliete wat 'n Egiptiese pa en 'n Israelitiese ma gehad het. Sy ma se naam was Selomit. Sy was 'n dogter van Dibri, uit die stam Dan. Dié man het in die kamp met 'n man van suiwer Israelitiese afkoms in 'n woordewisseling betrokke geraak en die Godsnaam lasterlik gebruik. Hy is toe na Moses toe gevat

12. en gevange gehou. Intussen is 'n beslissing van die Here oor die saak afgewag.

13. Die Here het toe vir Moses gesê:

14. “Vat die man wat gelaster het, uit die kamp uit. Laat almal wat hom hoor laster het, hulle hande op sy kop sit, en laat die hele gemeente hom daarna met klippe doodgooi.

15. Sê dan vir die Israeliete: Elkeen wat vir God laster, sal die straf daarvoor kry.

16. Wie die Naam van die Here oneerbiedig gebruik, moet die doodstraf kry. Die hele gemeente moet hom met klippe doodgooi. Dit geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge: wie die Godsnaam oneerbiedig gebruik, moet sterf.

17. “Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24