Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 22:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

17. Die Here het vir Moses gesê:

18-19. “Sê vir Aäron, vir sy seuns en vir al die Israeliete: Wanneer enige Israeliet of vreemdeling in Israel aan die Here 'n brandoffer wil bring, moet dit vir die Here aanneemlik wees, of dit nou bedoel is om geloftes na te kom en of dit bedoel is as vrywillige offers. Dit moet 'n bul, 'n skaapram of 'n bokram wees en sonder liggaamsgebrek.

20. Geen dier wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag geoffer word nie, want die Here sal dit nie van julle aanneem nie.

21. Wanneer iemand 'n maaltydoffer aan die Here bring om 'n gelofte na te kom of as 'n vrywillige offer, is 'n bees of 'n stuk kleinvee sonder liggaamsgebrek aanneemlik. Die dier mag nie enige liggaamlike tekortkominge hê nie:

22. dit mag nie blind wees of 'n afpoot hê of 'n seerplek of vratjies of brandsiek of enige velkwaal nie. Só 'n dier mag julle nie vir die Here aanbied en op die altaar bring as 'n offergawe vir Hom nie.

23. As vrywillige gawes mag julle wel beeste of kleinvee met misvormde liggaamsdele offer, maar sulke diere mag nie gebruik word om 'n gelofte na te kom nie.

24. Julle mag nie 'n os of 'n hamel aan die Here offer nie, ongeag die manier waarop dit gekastreer is. Sulke offers mag julle in julle land nie bring nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 22