Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 22:14-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. “As 'n onbevoegde persoon per ongeluk van die gewyde gawes eet, moet hy die waarde daarvan plus twintig persent aan die priester uitbetaal.

15. “Die priesters moet egter toesien dat die gewyde gawes wat die Israeliete aan die Here gee, nie ontwy word nie.

16. Hulle mag nie toelaat dat onbevoegde persone van die gewyde gawes eet nie, want dan sal hulle straf oor hulleself bring. Ek, die Here, heilig die priesters.”

17. Die Here het vir Moses gesê:

18-19. “Sê vir Aäron, vir sy seuns en vir al die Israeliete: Wanneer enige Israeliet of vreemdeling in Israel aan die Here 'n brandoffer wil bring, moet dit vir die Here aanneemlik wees, of dit nou bedoel is om geloftes na te kom en of dit bedoel is as vrywillige offers. Dit moet 'n bul, 'n skaapram of 'n bokram wees en sonder liggaamsgebrek.

20. Geen dier wat 'n liggaamlike tekortkoming het, mag geoffer word nie, want die Here sal dit nie van julle aanneem nie.

21. Wanneer iemand 'n maaltydoffer aan die Here bring om 'n gelofte na te kom of as 'n vrywillige offer, is 'n bees of 'n stuk kleinvee sonder liggaamsgebrek aanneemlik. Die dier mag nie enige liggaamlike tekortkominge hê nie:

22. dit mag nie blind wees of 'n afpoot hê of 'n seerplek of vratjies of brandsiek of enige velkwaal nie. Só 'n dier mag julle nie vir die Here aanbied en op die altaar bring as 'n offergawe vir Hom nie.

23. As vrywillige gawes mag julle wel beeste of kleinvee met misvormde liggaamsdele offer, maar sulke diere mag nie gebruik word om 'n gelofte na te kom nie.

24. Julle mag nie 'n os of 'n hamel aan die Here offer nie, ongeag die manier waarop dit gekastreer is. Sulke offers mag julle in julle land nie bring nie.

25. Julle mag ook nie 'n os of 'n hamel wat julle by 'n uitlander kry, aan julle God offer nie. Sulke diere is vermink, hulle het 'n liggaamlike tekortkoming, en die Here sal dit nie van julle aanneem nie.”

26. Die Here het vir Moses gesê:

27. “'n Kalf of 'n skaaplam of 'n boklam wat aankom, moet 'n week lank by sy ma bly. Van die agste dag af is die diertjie aanneemlik as 'n offergawe aan die Here.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 22