Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 17:6-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Die priester moet die bloed sprinkel teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting en ook die vet op die altaar verbrand as 'n offer wat deur die Here aanvaar word.

7. Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie.“Hierdie bepaling moet 'n vaste reël wees vir alle toekomstige geslagte.

8. “Verder moet jy vir hulle sê: Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n brandoffer of enige ander offer wil bring,

9. moet dit vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting. As iemand dit nie doen nie, sal hy van sy volksgenote afgesny word.”

10. “Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat enige bloed eet, sal Ek self straf. Ek sal hom van sy volksgenote afsny.

11. Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is,

12. beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie.

13. Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n rein wilde dier of voël slag, moet dit laat uitbloei en die bloed met grond toemaak.

14. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, beveel Ek julle, Israeliete, dat julle géén bloed mag eet nie. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, sal elkeen wat dit eet, doodgemaak word.

15. “Enige persoon onder julle, of hy nou 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling, wat 'n dier eet wat gevrek het of deur roofdiere verskeur is, moet sy klere en homself was. Hy sal die res van die dag onrein wees.

16. As hy nie sy klere en homself was nie, moet hy die gevolge dra.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 17